Tag Archive | groenboontjies

Lewer/Lewerkoekies


 

Lewerkoekies met krumelpap, bisto en uie sous.

Lewerkoekies met krumelpap, bisto en uie sous.

Die lewerkoekie in netvet het ek so rukkie terug gemaak toe ons lam geslag het, so dit is een groot lewerkoekie in netvet wat ek net so in die oond gooi en lekker bak tot gaar.

 

Hier is 2 lewer geregte om te maak:

 

Gebraaide Lewer en Uie

500 g lamslewer, skoongemaak

Water

7 ml sout

5 ml varsgemaalde swartpeper

100 ml melk

150 ml koekmeelblom

150 ml sonneblomolie

1 groot ui, in dunskywe gesny

1 groen rissie, fyngekap

15 ml suiker

30 ml bruinasyn

 

Week lewer 30 minute in genoeg water om te bedek. Dreineer entrek vel af. Sny in dun stukkies. Geur met peper en 5 ml sout en giet melk oor. Week 30 minute. Haal lewerskywe uit melk en rol liggies in meel. Verhit olie in braaipan en braai lewer 5-10 minute aan elke kant, of tot dit ligbruin is. Haal uit pan, dreineer en hou warm. Voeg uieskywe, rissie, suiker, asyn en res van sout by olie in pan en prut 10-15 minute. Voeg nog sowat 100 ml warm water by as jy meer sous wil hê.

Porsies 4-6.

 

Lewerkoekies

 

500g skaaplewer 4 middelslag aartappels

250ml gesnyde groenboontjies

2 spinasieblare

1 middelslag tamatie 1 ui

1 sny brood 3 eiers

180ml ongesif afgemeet meelblom 15ml bakpoeier

10ml sout 1ml peper

kookolie vir vlak braai.

 

Trek die vliese van die lewer af en sny die lewer in stukke. Maal die lewer beurtelings met die aartappels, boontjies, spinasie, tamatie en ui. Maal die brood laaste(sodat jy terselfdertyd die meul skoonmaak.)Voeg die eiers by die gemaalde mengsel en meng goed. Voeg die meelblom, bakpoeier, sout en peper by en meng. Skep lepelsvol lewermengsel in vlak warm kookolie en braai dit eers aan die een kant oor matige hitte tot gaar en bruin. Dreineer die lewerkoekies goed op kombuispapier en sit dit warm of koud voor. Hierdie koekies vries goed.

Advertisement