Tag Archive | grootmaat nagereg

Gebakte poeding (3 in 1 resep van Rencia)


grootmaat poeding

Ek moes vir ongeveer 25 mense gebakte poeding maak, so enige beslag moes ek dus ongeveer 3x aanmaak maar daar kom toe die probleem, 5h00 op ‘n Saterdag middag ….
Ek wou eers die een poeding maak, toe sien ek ek het nie genoeg kakoa nie, toe ek die ander een vat toe sien ek ek het nie idealmelk of room nie, die ander een het ek nie genoeg appelkooskonfyt, toe besluit ek, plan moet jy plan maak. Ek neem toe al die resepte en maak 1 resep – 3 nageregte in 1 – dit moet net werk…. sooo nou is die MY POEDING, nie my ma of my ouma of my tannie se resep nie

Hier is die eind produk en julle kan dit met ‘n geruste hart maak, dit flop nie. Dit is nie erg soet nie, dit is nie duur nie, en jy kan die resep op grootmaat maak of net 1x

RENS SE 3 IN 1 GEBAKTE POEDING
Grootte : Oondpan (ongeveer 25porsies)

Die hoeveelhede tussen hakkies is vir 1 beslag – Genoeg vir 6/8 porsies

3 eiers (1 eier)
1 ¼ kop suiker (125ml suiker)
3 kop koekmeel (1kop meel)
3 tl bakpoeier (1tl bakpoeier)
3 tl koeksoda (1tl koeksoda)
90ml wit asyn (30ml asyn)
6 eetlepels appelkooskonfyt (2 eetl appelkooskonfyt)
3 kop melk (1 kop melk)
75 ml kakoa poeier (25ml kakoa)
½ tl sout (knippie sout)
3 tl gerasperde lemoenskil (opsioneel) (1tl lemoenskil)
Metode:
Meng suiker en eiers
Gooi koeksoda in melk en los op
Meng al b.g. bestandele en bak in oondpan vir ongeveer 45/50 minute of tot toetspen skoon uitkom by 180 C . Sit oond af.
Haal uit, sny in blokke. Gooi die warm sous oor die poeding. Die sous lyk baie maar dit is nie. Gooi maar bietjie vir bietjie oor tot alles in die koek ingetrek het
Sit terug in oond vir ongeveer 10 minute

Sous:
3 kop melk (of 2 kop melk en 1 kop room of 2 kop melk en 1 kop idealmelk) (1 koppie melk of half half soos bo)
3 kop water (1 kop water)
1 1/4 kop suiker (125ml suiker)
125gr botter (2 eetl botter)
15ml vanilje (5ml vanilje)
75 ml kakoa poeier (25ml kakoa)
3 tl gerasperde lemoenskil (opsioneel) (1tl lemoenskil)
Bring alles tot kookpunt, en kook ‘n rukkie oor stadige hitte tot alles gesmelt is.

Wenk: Los die lemoenskil uit as jy wil.
Los die kakoa uit vir gewone gebakte nagereg
Beslag kan met gemak verdeel word in 1 beslag (6/8 mense) of 2 (16 mense)
Al die bestandele is deelbaar deur 3

Bedien met vla of roomys of room

 

 

Basaar poedings (koud)


basaar poeding 1

Vinnige en maklike VANILLA POEDING

Bestanddele
1/2 koppie suiker
1/4 koppie mielieblom (maizina)
2 eiergele, geklits
1/4 teelepel sout
2 1/2 koppies melk
1 eetlepel botter
1 1/2 teelepel vanieljegeursel

Metode
Meng al die bestanddele in ‘n medium kastrol oor medium hitte. Roer aanhoudend totdat poeding verdik vir ongeveer 5 tot 10 minute. Hou verkoel.

Variasies:
Sjokoladepoeding: Voeg 2  sjokolade blokkies by

Botterkaramel poeding: gebruik 1/2 koppie ligte bruinsuiker en 1/4 koppie suiker in plaas van 1/2 koppie suiker

*

BLITS VINNIGE KLITSPOEDING
Dit is binne minute gereed om bedien te word.
1 x 410 g blik yskoue ideal melk
1 pakkie kitspoeding – vanielje of piesang geur
50 ml aarbeikonfyt
METODE:
Klits die ingedampte melk tot styf.
Klits die kitspoeding by tot gemeng en laat ‘n paar minute staan.
Klits die konfyt by.
Gooi die mengsel in ‘n mooi poedingbak en plaas in die yskas om te stol.

*

KOUE SAGOPOEDING
4 koppie melk.
1 koppie melk.
4 eiers.
1 koppie kookwater.
1 koppie sago
1 koppie suiker.
1 pakkie jellie

Kook 4 koppie melk en sago saam. Meng orige melk, suiker en eiergele en voeg by sagomengsel.
Los jellie in kookwater op en voeg by mengsel.
Klop wit van eier styf en vou in. Plaas in yskas.

*

JELLYSKUIM

1 pakkie jellie (enige geur)
3 eetlepels suiker
1 koppie kook water
Meng als goed.
Sit 8 ysblokkies eenkant.
Klits jelly met n elektriese handklitser, gooi ys blokkie vir blokkie by, klits elke keer goed tot blokkie gesmelt het voor jy nog n blokkie by gooi. Dit maak lieflike sagte skuim, ekonomies en maklik.

*

GRENADELLA  MELKJELLIE
1 pakkie grenadella jellie
250 ml kondensmelk
100 ml grenadellamoes
125 ml vars room, geklop

Maak jellie volgens aanwysings op pakkie en laat afkoel. Voeg kondensmelk en grenadellamoes by en klits goed om te meng. Giet in nat jellievorm en laat stol. Keer uit op opdienbord. Klop vars room totdat stywe punte vorm. Versier jellie met geklopte room. Porsies 4-6

*

FEETJIEPOEP
1 sjokolade sponskoek
1 blik karamel kondensmelk
1 houertjie room
sjerrie van jou keuse

Breek koek in groot krummels.
Pak in bak.
Sprinkel sjerrie oor.
Klits room styf en klits karamel daarby in.
Skep bo-op koek.
Herhaal lae.

*

SNEEUPOEDING
4 kop water
1 en half kop suiker
sout
3 hoogvol eetlepels maizina
4 eierwitte (styf geklop)
1 tl wynsteensuur
1 tl suurlemoengeursel
Kook water, suiker en sout.
Maak maizina aan met bietjie waterenvoeg die kokende suikerwater by.
Verwyder van stoof en vou styfgeklopte eierwitte, wynsteensuur en geursel by.
Plaas in yskas.

*

BASAAR POEDING
4 Blikkies idealmelk (oornag in yskas)
1 botter aanmaak Passion-fruit koeldrank
4 pakkies suurlemoen jellie (aangemaak en laat afkoel net voor stol stadium)
Klits melk tot dik skuim, meng jellie in en gooi koeldrankstroop by
Hou aan met klits tot goed gemeng is en verkoel in yskas

*

PYNAPPEL POEDING/MOUSSE
1 Blikkie Ideal melk, oornag verkoel in yskas
1 Pakkie pynappel jellie
1 Blikkie Crushed Pynappel.
Gooi die stroop van die pynappel af en los die jelliepoeier daarin op. Voeg ‘n klein bietjie water by indien die vloeistof te min is. Sit in die yskas tot so halfpad gestol en soos eierwit lyk. Klits dan die ideal melk tot dik en dubbeld in volume. Voeg nou die jelliemengsel en crushed pynappel by. Meng deur en sit in die yskas in ‘n mooi opdienbak om te stol.
Dit kan ook vir ‘n tert gebruik word – pak dan ‘n laag tennisbeskuitjies onder in ‘n bak en gooi die helfde van die vulsel oor. Nog ‘n lagie beskuitjies en dan die res van die vulsel. Krummel een of twee koekies bo-oor vir garnering en sit in die yskas om te stol.

*

OROS POEDING (50mense)
3 blikkies Idealmelk (oornag in yskas)
5 desertl gelatien (opgelos in koue water en so ‘n paar sek in mikkie tot gesmelt)
Los op 5 kop suiker in 2 en half kop kookwater, voeg gelatien by –
Gooi 2 bottels oros (750ml elk) by stroop mengsel
Sit in yskas om af te koel maar dit moet nie stol nie –
Klits nou die ideal melk styf en voeg by bo-genoemde – Sit in yskas om te stol –

*

BASAAR POEDING (Lewer 50 skeppe)
8 Pakkies Jellie (jou keuse)
16 koppies kookwater
1 blik kondensmelk
ingelegde vrugte (enige hoeveelheid) sny net fyn en klein stukkies
Los jellie in water op (jy kan die sap van die ingelegde vrugte ook gebruik om die jellie mee aan te maak)
Laat afkoel
Voeg kondensmelk by asook die vrugte
Sit in yskas – verkieslik oornag.

*

KOEJAWELPOEDING
1 groot blik koejawels fyngemaak met sap
2 pakkies aarbei jellie aangemaak met 3 kop kookwater
1 blik kondensmelk
500ml vla (slap aangemaak met net ongeveer 4tl vlapoeier sonder suiker)
Meng jellie en laat afkoel, nie stol – voeg alles bymekaar – meng goed en laat staan verkieslik oornag in yskas

*

JELLIEPOEDING
4 pakkies jellie, verskillende kleure
30ml gelatien
125ml koue water
1blik kondensmelk
375ml kookwater

Berei jellie in afsonderlike houers soos op pakkie en laat stol.
Sny in blokkies en plaas alles in ‘n groot bak.
Hou verkoel tot nodig.
Sprinkel gelatien oor koue water en laat week tot sponsig.
Verhit in mikrogolf ongeveer 30-60 sek
Meng kondensmelk en kookwater. Meng gelatien in.
Laat afkoel maar nie stol.
Giet oor jellieblokkies. Roer een keer deur.
Laat stol in yskas.
Geniet met vla

*

KLEURVOLLE JELLIE
1 pakkie groen jellie
1 pakkie geel/oranje jellie
1 pakkie rooi jellie
.aangemaak volgens aanwysings op die pakkie en gestol in die yskas.
1 blikkie kondensmelk
125 ml suurlemoensap

Sny die jellie in blokkies en skep deurmekaar in ‘n mooi glasbak. Meng die jellie en suurlemoensap tot dik… (Die GEHEIM om kondensmelk en suurlemoensap dik te kry is om dit net in EEN rigting met ‘n lepel saam te vou. Moenie wil en wakker roer nie. Rustig, een rigting, invou!) Gooi oor die jellie.

*

IDEALMELK EN JELLIEPOEDING
2 pakkies jellie
1 blikkie idealmelk (oornag in yskas)
Maak jou 2 jellie aan met :
450ml kookwater en 400ml koue water
Laat staan en koel heeltemal af – nie gestol
Klits die idealmelk styf met klitser en vou in poeding in
Plaas in yskas tot gestol

*
BIETJIE POEDING – BAIE POEDING
2 Pakkies jellie
Maak jellie aan met
300ml kookwater en 300ml kouewater
Laat effe afkoel
GOOI YSBLOKKIES IN JELLIE – SO EEN ICE CUBE TRAY –
Klits nou VINNIG die jellie tot so wit skuim en dik is, en al die ysblokkies gesmelt is.
Plaas in yskas

*
LIEFSTE LAAGPOEDING (Uit Kermiskos)
1 x 397 g kondensmelk
125 ml suurlemoensap
1 pak Mariebeskuitjies
500 ml baie dik vanieljevla, afgekoel

Meng kondensmelk en suurlemoensap. Pak ‘n laag beskuitjies op die boom van ‘n ronde bak. Skep ‘n laag vla ongeveer ,5 cm dik op beskuitjielaag en smeer glad. Pak weer laag beskuitjies en smeer ‘n laag kondensmelkmengsel oor. Herhaal die lae en eindig met kondensmelkmengsel. Strooi fyn beskuitjiekrummels bo-oor. Sit in koelkas om goed koud te word. Opsioneel, klits room styf en sit bo-op net voor bedien.

*
SUURLEMOEN YSKASKOEKIES
125 gr botter
250ml suiker
1 blik kondensmelk
gerasperde skil van 1 lemoen
50 ml lemoensap
100gr kersies (rooi of groen) in kwarte gesny
2 pakkies marie- beskuitjies (fyn)
250 ml klapper
Versiersuier bo op:
500ml versiersuiker
50ml suurlemoensap

Meng botter suiker kondensmelk skil en lemoensap in kastrol en smelt alles
Laat afkoel
Meng kersies, marie beskuitjies en klapper by
Druk in plat bak en smeer die versiersuiker mengsel bo-op. Sny in blokkies.
Bewaar in yskas