Tag Archive | tamatie bredie

Tamatiebredie


Tamatie Bredie-Bron onbekend

Tamatie Bredie-Bron onbekend

Tamatiebredie

Madri Cordier

Hier is Pasella s’n:
Hierdie bredie van die Albertinia Hotel is die rede hoekom mense van oraloor reis om te kom proe. Pasella het hulle oorreed om hulle geheime resep met ons kykers te deel.
(Bedien 4 – 6)

1 kg Karoo skaapskenkel/beesvleis
olyfolie

2 middelslag uie, in ringe gesny
1 selderystingel, gekap
2-3 huisies knoffel (afhangende van smaak en voorkeur)
2 lourierblare
4 kardemomsade
2 t worcestersous
200ml bees of groente-ekstrak
½ k witwyn
750 g ryp tamaties, geskil en gekap
3 groot aartappels, geskil en in blokkies gesny
3 groot wortels, geskil en in ringe gesny
gekapte pietersielie, na smaak
sout, gemaalde swartpeper en suiker, na smaak

Gebruik ‘n swartboompot en braai die vleis in olyfolie tot geseël en bruin. Skep uit. Braai nou die uie tot glasig waarna die seldery en knoffel bykom. Braai 2 minute en sit die vleis terug in die pot saam met die kruie, worcestersous, ekstrak en witwyn. Prut sowat een uur.

Voeg die tamaties en die groente by en geur met sout en peper, prut dan verder tot die vleis en groente sag is. Die bredie behoort natuurlik te verdik (as jy voel jy wil die sous meer verdik meng ‘n bietjie koekmeel met ‘n bietjie water en blatjang en voeg dit by). Proe – as die tamaties baie suur is – voeg ? bietjie suiker na smaak by en roer die pietersielie deur net voor opdiening. Bedien op stampmielies of stampkoring.

Tamatiebredie in prutpot

Rencia Odendaal Pretorius
6 porsies
125 ml water
2,5 ml bruinasyn
5 ml droë pietersielie
2,5 ml sout
820 gr tamatie-en uie-smoor (2 x 410gr blikke)
15 ml bisto
60 ml blatjang
15 ml bruinsuiker
6 middelslag aartappels, in kwarte gesny
1,2 kg beesvleis (stewing beef), in blokkies gesny
1 beesvleisaftrekselblokkie
swartpeper na smaak
Was vleis en plaas in prutpot. Voeg aftrekselblokkie, water, asyn, pietersielie, sout , peper en tamatiesmoor by. Plaas deksel op en kook vir 3 ure op hoog. Draai hitte af tot laag. Meng bisto, blatjang en bruinsuiker en roer by vleismengsel. Voeg aartappels by. Sit deksel op en kook vir 2 ure of tot aartappels gaar is.

Wen-tamatiebredie
(4 PORSIES)

60 ml kookwater
halwe skaapaftrekselblokkie
60 ml sultanas
2,5 ml vinkelsaad
1,25 ml matige kerriepoeier
1,25 ml garam masala
1 lourierblaar
2,5 ml seesout
1,25 ml varsgemaalde swartpeper
4 x 10 cm-selderystingels, in stukke gesny (verwyder blare en die wit gedeelte)
150 ml wortels, in ringe gesny
125 g braaispek (rashers), in 1 cmblokkies gesny
15 ml sonneblomolie
500 g kort-gesnyde lamskenkels
250 g ontbeende lamsboud in 2 cmstukke gesny
1,25 ml gedroogde rissievlokkies
2 medium-groot uie, in groterige stukke gesny
1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
1 klein knoffelhuisie, geskil en fyngerasper
400 g goed-ryp tamaties, skil verwyder en in blokkies gesny
250 ml passata (tamatiepuree)
60 ml droë witwyn
10 ml suiker
1,5 cm vars gemmer, geskil en fyngerasper
15 ml vars tiemieblare
60 ml sterk blatjang
15 ml vars koljander, gekap
Voorverhit die oond tot 160 ºC. Los skaapaftrekselblokkie in kookwater op. Voeg sultanas by en hou
eenkant. Rooster vinkelsaad in ’n pan en maak fyn in vysel en stamper. Voeg kerriepoeier, garam masala, lourierblaar, sout en peper by en hou eenkant. Plaas seldery en wortels in voedselverwerker en verwerk tot grofgekap. Verhit groot pot oor medium hitte en braai spek. Roer af en toe totdat spek goudbruin is en al die vet uitgebraai is. Verwyder spekstukke en gooi spekvet in ’n maatbeker; behou sowat 30 ml in pot. Verbruin skaapskenkels oor medium hitte in twee eetlepels spekvet, sowat 3 – 4 minute per sy. Moenie pan te vol maak nie, anders stoom die vleissappe uit die vleis uit. Verwyder uit pan en hou eenkant. Braai res van vleis op dieselfde manier en voeg spekvet by as die pot te droog word. Indien spekvet nie genoeg is nie, vul aan met sonneblomolie. Braai rissievlokkies vir 30 sekondes. Voeg gekapte wortels en seldery, uie, soetrissie en knoffel by en soteer tot deursigtig, sowat 6 – 10 minute lank. Roer af en toe sodat mengsel nie vasbrand nie. Voeg tamaties, passata, wyn, suiker, gemmer, tiemie, speserymengsel en sultanas en aftreksel by. Verlaag hitte tot medium en prut vir sowat 8 minute. Plaas die vleis terug in die sous en meng. Verhit dit tot kookpunt, bedek en plaas in voorverhitte oond. Bak vir 1½ uur. Haal pot uit oond en voeg blatjang en koljander by. Roer deur en proe vir geur, voeg meer sout by indien nodig. Plaas bedekte pot terug in oond en bak 30 minute tot vleis sag is. Verwyder deksel en bak onbedek vir 30 minute.

Tamatiebredie

(Sarie.com)
4 – 6 porsies)

1 200 g ryp, vars tamaties
500 g lamsribbetjie, van die been gesny
700 g kort lamskenkels
meel om die vleis te bedek
sowat 50 ml sonneblomolie
6 klein piekel-uitjies, in kwarte gesny
2 ml fyn gemmer
3 kardemomsade
5 ml koljandersaad
6 heel peperkorrels
7 ml vinkelsaad
7 ml droë tiemie
3 knoffelhuisies
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
15 ml blatjang
150 ml witwyn
Verhit jou oond tot 160 °C. Verwyder die skil van die tamaties. Sny die tamaties in kwarte. Sny die ribbetjie in sowat 4 cm-stukke. Bedek die ribbetjie en lamskenkels met meel. Skud die oortollige meel af. Verhit die sonneblomolie in ’n groot kastrol. Braai die ribbetjie en lamskenkels tot lekker bruin. Haal die vleis uit en hou eenkant. Gooi die uikwarte in dieselfde kastrol en braai vir 5 – 10 minute tot lekker bruin. Sit die vleis terug in die kastrol. Stamp die gemmer, kardemom, koljander, peperkorrels, vinkel, tiemie en knoffel met ’n stamper en vysel tot ’n pasta. Voeg by die vleis en meng goed. Voeg die tamaties by en geur met sout en swartpeper. Maak die kastrol met ’n deksel toe en kook in die oond vir 3 tot 3 ½ ure. Kyk so elke nou en dan dat dit nie droog kook nie. (As dit droog lyk, kan jy ’n bietjie water byvoeg.) Voeg die blatjang en wyn by en laat vir nog so ’n halfuur oop in die oond bak.

Advertisement