Ingelegde Vis
Liza Bosch
Bestanddele
1,7 kg Geelstert,Hake skoongemaak, grate verwyder en in skywe gesny
Olie
6 Suurlemoenblare
6 Groot uie, in ringe gesny
750 ml Bruin asyn
250 ml Water
175 ml Suiker
12,5 ml Borrie
37,5 ml Kerriepoeier
25 ml Meelblom
8 ml Sout
12,5 ml Grofgemaalde peper
250 ml Sultanas (opsioneel)
Metode
Braai vis ongeveer 1½ minuut per kant in warm olie, tot net deurgaar is. Geur goed en hou eenkant. Prut uie 10 – 12 minute in asyn en water tesame met suurlemoenblare, suiker, borrie, kerrie, sout en peperkorrels tot gaar maar nog ferm. Meng meel met ‘n bietjie van die warm sous en roer terug by sous. Prut totdat die sous gaar en dik is.
Vul ‘n lugdigte houer met lae vis, uie en sultanas om die beurt. Skep sous oor en plaas in koelkas. Die vis sal na drie dae gereed wees om geëet te word. Kan tot ses maande goed hou in yskas.
Ingelegde kerrievis
Lewer 4 – 6 porsies
1 kg stokvisstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
250 ml (1 k) koekmeelblom
2 ekstragroot eiers, geklits
125 ml (½ k) kookolie
Kerriesous
3 groot uie, geskil en in skywe gesny
375 ml (1½ k) bruinasyn
60 ml (¼ k) water
45 ml (3 eetl) suiker
5 ml (1 t) borrie
10 ml (2 t) kerriepoeier
1 ml fyn paprika
4 lourierblare
8 peperkorrels
sout na smaak
1. Plaas visstukke in ’n bak. Indien bevrore vis gebruik word, laat ongeveer 30 minute staan om effens te ontvries. Meng geurmiddels met meel. Rol vis in die gegeurde meel.
2. Verhit ’n braaipan met olie. Dompel vis in die geklitste eier en plaas direk in die warm olie. Braai vis vir ongeveer 5 minute aan elke kant of tot goudbruin. Verwyder uit olie en dreineer.
3. Sous: Kook al die bestanddele saam in ’n swaarboomkastrol vir ongeveer 10 minute.
4. Plaas die helfte van vis op bodem van ’n diep opdienbak. Giet die helfte van uiemengsel oor. Herhaal met vis en sous en plaas in yskas oornag sodat geur kan deurtrek.
Bediening
Bedien die vis met hotcross buns, broodrolletjies of selfs kapokaartappels.
Variasies
• Vervang die stokvis deur kabeljou of enige ander vis van jou keuse. Die filette kan in enige groottes of vorms gesny word.
• Kruie van jou keuse kan ook bygevoeg word.
• Speserye soos koljander en komyn kan ook gebruik word.
Gebruik van vis
As jy baie vis gevang het, is dit ’n gulde geleentheid om sommer baie in te lê en te bottel vir latere gebruik. Dit is verkieslik om vars, wit vis wat ferm is te gebruik, maar bevrore vis maak net sulke lekker kerrievis.
As bevrore vis gebruik word, gebruik van ’n bevrore stadium, ontdooi net effens. Ek vind altyd as bevrore vis heeltemal ontdooi word, is dit pap en die vis hou nie werklik sy vorm so goed nie. Daarby word dit ook meer waterig.
Maak van kerrievis
• Wanneer die kerrievis gemaak word, proe die sous en besluit self of dit nog asyn, sout of suiker benodig. Dit kan aangepas word na persoonlike smaak. Die sous kan ook effens verdik word met ’n pasta van die meelblom waarin die vis gerol is. Dit sal egter nie so lank hou soos sonder die meel nie.
• Die idee met kerrievis is om lae vis in ’n bak te sit en dan die sous oor te gooi. Dit word dan herhaal met nog vis en nog sous.
• Nadat die vis gemaak en afgekoel is, bedek en plaas in die yskas. Ná 2 of 3 dae is dit werklik smaaklik en gereed om te geniet.
• Lourierblare en peperkorrels dra by tot die besonderse smaak van die kerriesous. Lourierblare word gebruik in geregte of souse wat gewoonlik gekook word. Dit blare word verwyder voor opdiening.
• Geniet die kerrievis verkieslik koud uit die yskas.
Pikante Weskus
Kerrievis
Geelstert en Kabeljou is ideale keuses vir kerriesvis, maar enige ander wit vis
soos stokvis is ook geskik.
2 Kg Vismootjies
Sonneblomolie vir vlakbraai
3 groot Uie, ringe gesny
2 Eetlepels Mielieblom (Maizena)
Kerriesous:
3 Koppies Bruin asyn, 1 Koppie Bruin suiker, 1 Koppie Water
2 huisies vars Knoffel, fyngedruk
2 Teelepels vars Gemmer, fyngedruk
2 – 3 Eetlepels Kerriepoeier (sterk of matig, na gelang van smaak)
2 Teelepels geroosterde rooi Masalapoeier
2 Eetlepels Borrie
1 Eetlepel swart Peperkorrels
1 groot ryp Tamatie, pitte uitgedruk en fyngekap
2 Teelepels Sout
4 Lourierblare
Was en sny die vis in porsies. Braai die visporsies in warm olie vir omtrent 3 minute aan elke kant, net tot gaar. Voeg al die kerriesous bestandele in ‘n groot kastrol en bring stadig tot kookpunt, roer tot suiker opgelos het. Voeg uieringe by, verlaag hitte en bedek met deksel, prut vir 10 minute. Pak die vis en uie in lae in glashouers met skroefdeksels. Meng die mielieblom met ‘n bietjie van die kerriesous en roer by die sous, kook tot die sous effens verdik. Giet die sous warm oor die vis en laat dit afkoel, skroef daarna die deksels styf op en plaas in die yskas. Laat staan die vis vir omtrent 3 dae om die geur te ontwikkel voor opdiening.
Kerrievis
Martha De Lange
Sowat 1,5 kg geelbek/geelstert, of koningklip
15 ml sonneblomolie
4 groot uie, in ringe gesny
40 ml matige kerriepoeier
20 ml borrie
sowat 6 pimentkorrels (allspice)
sout en peper na smaak
2 gekneusde suurlemoen- of lourierblare
100 ml suiker
500 ml wit druiweasyn
125 ml water
Verhit jou oond tot 200 °C.
Plaas die visfilette op ’n bakplaat. Geur met sout en vars gemaalde swartpeper. Plaas in die warm oond en rooster vir 8 – 10 minute.
Verhit die olie in ’n kastrol en braai die uie, kerriepoeier en borrie saam vir so 5 minute. Meng die suiker, asyn en water saam en voeg by.
Geur met pimentkorrels, sout en peper en kook vir 20 minute met die deksel op. Pak jou gaar vis in ’n glasbak en gooi die warm sous oor.
Laat afkoel en maak toe met kleefplastiek. Laat vir 2 – 3 dae in die yskas om lekker te piekel.
You must be logged in to post a comment.