PIEKNIEKMANDJIES
Lekker gebakte broodjie – Ek bak die gewoonlik die broodjie in klein broodpannetjies en sny dit klaar en pak dan net lekker smere in soos : kaassmeer, lewerpate, kaas patee, komkommer in Kerrie, peppadews geul met feta, cream cheese ens – dit is iets anders as net koekies soos salticrax – anders kan jy so 3 of 4 verskilende koekies pak bv salticrax, sesame koekies, melba toast, provita’s ens
AARTAPPEL EN KAAS (POTATOBAKE) BROODJIE
Rencia Odendaal Pretorius
1 pakkie cheese en bacon potatobake (ek gebruik sommer enige ander geur wat kaas in het bv 3 cheeses ens)
Jy kan vir afwisseling ook so ‘n bietjie gebraaide spek byvoeg by die resep
300ml gerasperde kaas
100ml melk
300 gr aartappels – geskil en gerasper
450gr bruismeel
1 eier
Meng meel en potato bake
Voeg aartappels en kaas by en meng deur
Meng eier en melk en meng by bg mengsel
Knie net effe deur
Maak in bol vorm en sit in pannetjie
Smeer bietjie melk bo-oor
Strooi bietjie droe pietersielie en paprika oor (opsioneel – dit gee die broodjie net mooi kleur)
Bak vir 45/50 min by 180 grade C
Bak die broodjie in langwerpige broodpannetjies, sny reeds by die huis in skywe, smeer met botter, draai toe in gladwrap en neem net so saam.
Pak gevulde olywe, kersie tamaties, gesnyde komkommer, blokkies kaas , ens – jy kan dit selfs op ‘n stokkie ryg, dit vertoon ook mooi en eet makliker.
Vir vleis doen ek gewoonlik die volgende: ek rol ‘n kersie toe in bacon en braai in pan tot gaar, maak klein maalvleisbolletjies – groterige blokkies hoender wat ek in suurlemoensap gaar braai,
Dan ryg ek dit in op ‘n sosatie stokkie, stukkie hoender, kersie tamatie, dan die maalvleisbolletjie, dan stukkie gerkin, dan die bacon en kersie, dan ‘n klein button mushroom, dan weer ‘n stukkie hoender, gaan so aan tot die sosatie stokkie vol is. Maak lekker mosterdsous om die vleis in te druk.
Wat ook lekker werk is om hotdogbuns te vat en dit te vul met ham, kaas, tamatie, blaarslaai en dit dan in 3 stukke te sny, of selfs chicken mayonnaise of tuna mayonnaise. Gebruik selfs hamburgerbuns as jy wil en sy die bun in 4 – dit vertoon mooi en is lekker “bite size”
Pak wiggie kasies, droe wors, gekerfde biltong,
Wat ook lekker werk is ‘n bakkie aartappelslaai, noedelslaai, gekookte eiers,
As jy baie gesondheidsbewus is, maak vrugte sosaties met pynappel, lemoenskyfie, aarbeie, – dit wat op die stadium in seisoen is en verkrygbaar is in die winkels.
Vir nagereg kan jy net lekker sjokolade pak, of dalk van die bakkies flamby wat jy in die winkel te koop kry of vugte slaai of so iets
IDEE’S VIR PADKOS/PIEKNIEKMANDJIES
Rencia Odendaal Pretorius
Toebroodjies met tamatie,kaas,blaarslaai,komkommerskywe ,koue vleis en ringe uie, of jy kan hotdogbuns gebruik en dit maak soos ‘n health roll of self hamburgerbuns gebruik ipv brood.
As jy nie broodjies wil maak nie, koop pakkie salticrax/bacon kips,melba toast – enige sout koekie en kry wiggie kasies, koue vleis, cherrie tamaties, olywe, ringe komkommer , houertjie maaskaas of cream cheese, en eet so vingerhappies
Biltong en droe wors
Pakkies Simba chips, niknaks, pretzels
Vrugte
Rooiworsies wat in stukkies gesny is, ryg op tandestokkie met stukkies kaas en uitjies – die rooie en groenes
Die euwel van alles – gekookte eiers !!!! maar ai, dit bly maar lekker, en wat is padkos sonder eiers??
Vleise: koue maalvleisbolletjies, hoender boudjies, koue vleise – rol aspersie toe met vleis en steek vas met tandestokkie, vat kersie en rol toe met bacon en braai, die is baie lekker koud, wors wat in “bite size”” stukkies gesny is, gewone weense rooi worsies, rolletjie salamie wat jy kan sny in skyfies
Drinkgoed: fles koffie, of fles warm water en pakkies cup of soup in die winter, koeldrank en water
Vir lekkergoed vat ons altyd ‘n gemengde pak Royal sjokolade, of paar pakkies wine gums en klein kit kats, bar-one’s, tex
PADKOS IDEE’S
Om in die motor te eet op die lang pad, kan ’n morsige storie word. Wat jy nodig het is maklike, vinnige en krummelvrye happies om die nimmereindigende pad korter te maak en sommer ook geld te spaar.
Hier is ’n lys van bakgat padkos-idees wat die pad na Grabouw geurig en gemorsvry sal maak.
• Babawortels is een van die gerieflikste padkos-happies wat daar is en is boonop uiters gesond. Dit neem net een happie en is 100% gemorsvry!
Koop ’n pak babawortels en deel dit op in sakkies of in ’n kosblik. As wortels nie juis jou ding is nie, kan jy dieselfde doen met omtrent enige vars vrug of groente.
Sny dit op in snye en plaas dit in ’n kosblik en voila: ’n gesonde happie!
• Yogisip is die ideale padkos-drankie, want dit kan weer toegemaak word en dit is vullend.
Yogisip is ook propvol kalsium, so gee gerus vir Boeta as hy nie kan uithou tot middagete onder die koeltebome nie.
• Neute is ongetwyfeld een van die beste padkos-idees. Gemengde neute is eenvoudig, smaaklik en nie taai nie. Dit ruik nie skerp nie en sal nie sommer vlek nie.
Kies ’n verskeidenheid neute soos kasjoeneute, pekaneute, macadamia-neute, amandels en braziliaanse neute.
• Pretzels is seker een van die mees eenvoudige padkos-soorte wat daar is en kinders is dol daaroor.
Gooi ’n paar in ’n verseelbare sakkie en siedaar, nog ’n heerlike happie vir die lang pad!
• Grondboontjiebotter en stroop bly maar ’n wenkombinasie wat nooit sal uitsterf nie. Voeg ’n wafel by en jy het ’n watertand-happie wat al die insittendes gelukkig sal maak.
Hierdie happie is geskoei op die toebroodjie-idee en sal die hongerpyne vir ’n hele ruk stilhou.
• Kry jou proteïen-dosis met ’n stukkie biltong. Sny dit fyn op vir ’n vinnige peuselhappie.
Sny in dikker stukke vir Kleinboet sodat hy al kouend van sy frustrasies ontslae kan raak. Jy sal verbaas wees hoe baie hierdie kouery help.
• Die Pizzarol is bietjie meer moeite maar kan as ’n perfekte middagete dien. Neem ’n volgraan meel tortilla en smeer jou gunstelingsous daarop.
Bedek met so 12 babaspinasieblare en strooi gerasperde mozzerlla-kaas bo-oor. Verhit in die mikrogolfoond vir so 45 sekondes om die kaas te laat smelt.
Rol die tortilla op, laat dit af koel en sny in skywe.
• Deesdae is die meeste sagte soetgoed suikervry, wat beteken dat jou kinders na hartelus daarvan kan eet sonder om mekaar (en vir jou!) mal te maak.
• Ouma het iets beet gehad met die haar pakke en pakke droë vrugte. Nie net is dit vol nutriënte nie, dit is ook lekker om aan te kou en sal vinnig-vinnig jou soettand tevrede stel. As jy dit reg stoor, kan jy dit nog op pad huis toe ook geniet.
Kos vir die lang pad
Gebruik elke vakansie om ‘n tradisie van padkos te skep – tuis of op
die pad!
deur Wilna Myburgh
subredakteur@jouwereld.co.za
Frikkadelle
Worsies
Hoender
Hoendermayonnaisebroodjies
Mini hotdogs
Mini kaas- en soetrissiehamburgers
Quesadillas
Padkos is die begin van enige vakansie.
Van my kleintyd af eet ons altyd frikkadelle en toebroodjies op die lang pad. Met ‘n fles warm koffie. Die
lang pad is egter nog maar altyd ‘n losserige begrip. Begin die lang pad tog nie as jy net uit jou tuisdorp
gery het nie?
Later jare het my ma egter stuk-stuk begin voet vassteek omdat sy die enigste een in die huis is wat kan
toebroodjies maak. Ek sê toe, as sy dit nie wou maak nie, moes sy ons déstyds al op ‘n Wimpy-ontbyttradisie
gesit het, dan was daar nie nou probleme nie.
So, wees gewaarsku: Kies jou tradisie reg. Padkos bly padkos; as dit een keer gewerk het, gaan jy dit elke
jaar moet kan maak!
Soos die saak dan nou staan, is frikkadelle en toebroodjies aan te beveel. Maar, as jy meer
verskeidenheid aan die dag wil lê, kan jy van die idees gebruik maak.
Jy moet minstens ‘n vleisigheid en ‘n broderigheid hê, dan kan jy kreatief raak deur nog southappies en
gesonde happies by te voeg. Dis altyd goed om die gesondheid ook in ag te neem!
Ek dink nie ‘n mens moet jouself inperk net omdat jy onveilig voel om letterlik lángs die pad jou padkos te
geniet nie, in die kar, langs die pad, is net so lekker en verspil minder tyd.
As jy nêrens heen het om te ry nie – maak die kos en hou piekniek – al is dit in die agterplaas!
Gebruik bakke wat dig sluit; weggooibare bakke soos roomysbakke werk goed, of gebruik tupperware as
jy weet jy gaan dit later in die vakansie weer benodig.
‘n Vleisigheid
Maak seker dat jy vleis afkoel voordat jy dit verpak. Plaas dit daarna in ‘n koelsak met yspakke om dit
koud te hou.
Frikkadelle
Het ek al genoem dat frikkadelle ‘n stapelpadkosvoedsel is? Ek dink dis ook ‘n resep waar elke familie sy
eie resep en metode het, die is myne. Ek hou van ‘n sterk tamatiegeur.
500 g maalvleis
1 eier
sout
5 ml cajun-speserye, braaispeserye of maalvleisspeserye
5 ml gemengde, gedroogde kruie
10 ml tamatiesoppoeier
5 ml bruinuiesoppoeier
60 ml tamatiesous
30 ml blatjang (opsioneel)
5 – 10 ml Worcestersous
10 ml sojasous
Meng al die bestanddele saam – dit werk dikwels die beste om dit met die hand te doen. Of ‘n vurk as dit
vir jou te morsig is. Ek toets altyd eers ‘n stukkie in ‘n klein pannetjie om te proe of dit na wense is.
Dikwels kort dit nog bietjie sout of tamatiesous.
Voorverhit die oond tot 180 °C.
Rol dan balletjies en plaas dit in ‘n oondpan wat liggies met olie gesmeer is.
Jy mag my maar mal noem: ek weeg dikwels die frikkadelle af om almal presies dieselfde te kry – 25 g.
Dis darem nie altyd nie, spyseniering = perfeksie!
Elk geval, bak dan die frikkadelle vir 18 tot 25 minute, afhangend van hoe groot jy dit gemaak het. Indien
dit vetterige maalvleis is sal die frikkadelle onder nie mooi bruin word nie, plaas hulle dan omgedraai op ‘n
afkoelrakkie en plaas nog 2 minute in die oond.
Worsies
Met worsies hoef jy feitlik niks te doen nie.
Dun boerewors is heerlik, braai dit bruin en sny dit in klein stukkies. Jy kan sekerlik ook boerewors koop
en dit in ringe of kleiner stukkies sny.
Klein kaasviennas kan ook net vinnig gebraai word.
Hoender
Ek was nog nooit ‘n groot aanhanger van hoender wat aan die been in ‘n kar geëet word nie. Tog is dit
een van daardie moet-hê items vir menige se padkos.
As jy dus die tipe is, sal hoenderboudjies of vlerkies in jou kar verskyn.
Andersins, kan jy ook hoender in repies sny en die repies met speserye in olie braai, of dit in eier en
broodkrummels doop en dan braai.
‘n Broderigheid
Toebroodjies met kombinasies van ham, kaas en tamatie is altyd treffers.
Daar is egter nog opsies:
Hoendermayonnaisebroodjies
Die bestanddele is almal in die naam: mens het regtig net hoender, mayonnaise en broodjies nodig
hiervoor.
Koop ‘n halwe gaar hoender by jou gekose supermark. Pluis die hoender uit en voeg ‘n paar lepels
mayonnaise by totdat dit “nat” is. Voeg hierby ‘n teelepel aangemaakte mosterd en/of gekapte grasuie en
‘n bietjie sout, indien nodig.
Sny dan broodrolletjies in die helfte en oop en skep hoendermayonnaise in. Sit ‘n blaarslaaitjie by vir die
gesondheid!
Mini hotdogs
Dis soms moeilik om klein broodjies te kry wat soos klein hotdog-rolletjies lyk. As jy dit nêrens kan vind
nie, kan jy gewone rolletjies gebruik en dit dan net halveer.
Vir die hotdogsous:
Meng 50 ml elk tamatiesous, mayonnaise en blatjang met 2.5 ml aangemaakte Engelse mosterd en 25 ml
margarien by in ‘n pan en smelt dit. Voeg viennas by en verhit dit in die sous.
Skep dan in elke broodjie ‘n bietjie sous, ‘n halwe worsie en nog sous.
Mini kaas- en soetrissiehamburgers
Klein burgertjies is een van my gunstelinge, maar tog so duur. Dis aansienlik goedkoper as jy dit self
maak – en hulle lyk amper te dierbaar vir eet. Gelukkig net amper! Jy hoef nie kaas op te sit en
soetrissiesous by te maak nie, dis net ‘n gedagte. ‘n Gewone burgertjie is net so lekker.
Vir die burgers gebruik jy dieselfde vleismengsel as vir frikkadelle. Rol dit dan ook in frikkadelgrootte en
druk plat om patties te maak.
Braai dan die patties in ‘n klein bietjie olie. Braai tot mooi bruin, voor jy dit omdraai. Draai dit net een
keer om.
Rasper kaas en skep ‘n klein hopie op elke pattie, net nadat jy dit omdraai, dat dit begin smelt. Om dit te
help om beter te smelt kan jy ‘n deksel opsit.
Verwyder van die hitte – dit neem so 8 minute om weerskante te braai, afhangend van die dikte.
Sit op handdoekrol om die oortollige vet af te skud.
Vir die sous:
Meng gelyke hoeveelhede tamatie- en soetrissiesous, en voeg ‘n bietjie aangemaakte mosterd by na
smaak.
Sny die broodjies oop en rooster dit, as jy dit so verkies.
Skep dan op elke onderkant ‘n teelepel sous, sit ‘n blaarslaaitjie en ‘n pattie op. Sit dan op die bokant ook
‘n klein skeppie sous as daar nog is en druk toe.
Southappies
In die supermark se vriesafdeling is daar altyd interessante soutighede, van gewone worsrolletjies tot
springrolls. Jy kan dit gaarmaak en net laat afkoel voor jy dit verpak – so eenvoudig soos dit. Samoesas
kan ook werk. Heinz se Sensationz-reeks het ‘n paar interessante pasteitjies vir die waaghals.
Die groter waaghals kan egter sy eie soutighede maak. Hier is resepte vir quesadillas en quiches. Die
lekkerste daarvan is dat jy die vulsel so eenvoudig of interessant kan maak soos jy wil.
Quesadillas
Quesadillas is net so eenvoudig om te maak soos ‘n toebroodjie. En dit maak ook nie werklik meer
skottelgoed nie. Dit word van tortillas of wraps gemaak. Hoewel mens altyd in die rakke by die
Meksikaanse kosse “opregte” tortillas kry, is dit baie duur. Wees op die uitkyk vir wraps wat gewoonlik by
die pita’s, braaibroodjies en bagels uitgesit word.
Hier is wat jy doen:
Kry 1 wrap uit, en kry vir hom ‘n maatjie wat ongeveer dieselfde grootte is.
Sprinkel dan kaas (Cheddar, Mozzarella, feta), gebraaide spek, sampioene of uie, tamatiesalsa, of net wat
jy kan aan dink daarop. Maak seker dat jy dit van “hoek tot kant” vol kaas het.
Sit dan die pasmaat-wrap bo-op.
Gooi ‘n bietjie olie in ‘n groot braaipan. Braai die wrapbroodjie tot goudbruin. Voor jy hom omdraai, smeer
die bokant met ‘n bietjie olie. Braai dan die kant ook tot bruin.
Verwyder van die hitte as dit goudbruin is weerskante, en die kaas gesmelt het.
Sny elkeen in 8 skywe. Hoewel die quesadillas heerlik bros is direk na dit gebraai is, en ja, jy moet beslis
een proe, word dit later sag – dis egter nog net so lekker.
Mini quiches
Klein souttertjies is dalk net te veel gevra van die persoon wat op vakansie gaan, maar sou jy jouself in
die netelige posisie vind waar jy vir ander mense padkos maak, of dalk op ‘n piekniek gaan is dit ‘n
werkbare plan.
Vir die deeg kan jy klaarvoorbereide blaardeeg (puff pastry) of shortcrust gebruik. Of maak jou eie deur in
‘n voedselverwerker 1 koppie meel, 7.5 ml bakpoeier, ‘n knippie sout, 125 g botter / margarien (in
blokkies gesny), 1 eier en 15 ml asyn verwerk tot dit ‘n deeg vorm. Hou dit in die yskas vir ‘n halfuur
voordat jy dit uitrol.
Druk sirkels uit jou gekose deeg, en druk dit in gesmeerde klein muffinpannetjies. Skep vulsel* in en bak
vir 15 – 20 minute in ‘n voorverhitte oond van 190 °C tot amper styf en goudbruin.
*Om die vulsel te maak:
Maak 1 koppie witsous, met 30 ml botter / margarien, 50 ml meel en ‘n koppie melk.
Voeg 1 eier by en klits goed.
Hierby kan jy enige bestanddele voeg, soos Cheddarkaas, fetakaas, ander kase, songedroogde tamatie,
olyfstukkies, gebraaide spek, sampioene of uie, of ‘n heerlike kombinasie van jou gunsteling.
Gesonde happies
Lag maar vir my, dis reg: ek voel altyd beter (maak nie saak wat ek eet nie) as ek ‘n ou blaarslaaitjie of ‘n
tamatietjie óók eet. Instant gesondheid!
Slaaistokkies is ‘n heerlike manier om jou slaai in te kry langs die pad.
Gebruik kersietamaties, stukkies blaarslaai, olywe, komkommer en kraakvars ertjies en ryg dit op stokkies
in verskillende kombinasies. Heerlik!
Vars vrugte is net so lekker. Veral druiwe is ‘n wonderlike dorslesser! Jy kan vrugtestokkies ook maak, of
die vrugte heel inpak.
jouwêreld e-tydskrif – Maart 2010
You must be logged in to post a comment.